G.S.M. MOTOR KLUB VAN SUID AFRIKA.

Die GSM Motorklub van S.A. is gestig na ‘n advertensie in die CAR motor tydskrif van Julie 1976. Die advertensie het as volg gelui:

FLAMINGO CLUB – those who want to form
a club – please write to :- Con Joubert, 11
Dias Rd., Morgan Ridge, Boksburg, 1460.
Phone 826-2877 , Boksburg.

Op daardie stadium het ek geweet van vier Flamingos en een Dart.

Die motors het behoort aan:

  • Frank Maritz - Dart en Flamingo

  • Noel Blott - Flamingo

  • Johnny Hirsch- Flamingo

  • Con Joubert - Flamingo.

Die idee van ‘n Klub het by my opgekom en ek het dit met Frank bespreek. Ons het gewonder of daar nog motors op die pad was en die gedagte het gesorg vir die advertensie soos bo.

Die aanvanklike reaksie was goed gewees. Landwyd het eienaars van hulle laat hoor.
Daar was reaksies van in en om Johannesburg, van Kaapstad, Ermelo, Barcley Oos en sover as Oos London en Port Elizabeth. Van die eerste oproepe was van Raynard Beukes van Kempton Park en Dries Weyers van Cornelia.

STIGTINGS VERGADERING - AUGUSTUS 1976.

‘n Byeenkoms was gereël vir vroeg in Augustus 1976 om te kyk of ‘n Klub lewensvatbaar sou wees.

Teenwoordig was:

  • Frank Maritz

  • Raynard Beukes

  • Noel Blott

  • Pieter Tolken

  • Johnny Hirsch

  • Dries Weyers

  • Con Joubert

  • Larry Willford.

Daar is baie gepraat en gedagtes rond gegooi oor die moontlikheid om ‘n klub te stig en wat dit, uit die aard van die saak sou, behels. Op die ou einde is daar wel besluit om aan te gaan en ‘n Klub te stig. Daar is besluit op - GSM Motor Klub van S.A.

Motors by die eerste vergadering.

             
Dus - STIGTIGINGS DATUM - SEPTEMBER 1976

Die Klub se eerste komittee het bestaan uit :
  • Voorsitter – Con Joubert
  • Sekretaris – Raynard Beukes

GSM MOTOR KLUB van S.A. – DOELSTELLING.

  1. Lidmaatskap vereis ‘n GSM produk. ( Dit is later vervang na belangstelling sonder ‘n motor )
  2. Ledegeld sou gehef word op ‘n jaarlikse basis en sou aangepas word soos nodig.
  3. Ledegeld sal aangewend word vir alles wat vir die Klub nodig was.
  4. Vergaderings op ‘n maandelikse basis roteerend tussen lede.
  5. Verkiesing van die komittee op ‘n jaarlikse basis.
  6. ‘n Register sou saam gestel word tov. onderstel nommers en eienaars.
  7. Artikels sou opgespoor word en sentraal bewaar word.
  8. Identifikasie van parte gebruik en waar om op te spoor.
  9. Jaareind afsluiting funksie.

Daar het nog ‘n advertensie verskyn waarop heelwat mense gereageer het. Ek het ongelukkig nie die kronologiese volgorde nie, maar mense soos Mike de Lange, Herman Krause en nog vele meer. As ek nie die name meer kan onthou nie vra ek om verskoning. Ek sluit egter ‘n lys in wat redelik op datum was vir daardie tyd. Ek glo dit sal interessant vir die Kaapse Klub wees.

Hennopsrivier. (Oktober 1976).

Die eerste groot uitstappie wat ons gehad het was na Hennopsrivier. Dit is op pad na die Hartebeespoortdam. Hierdie uitstappie het nogal baie reëlings geverg. Baie tyd was gespandeer om die dag te ko-ordineer met almal wat wou saamgaan. Die betrokke Sondag het ons bymekaar gekom by ‘n sentrale punt en toe saam vertrek. Daar was 17 GSMs gewees. Hoeveel van elk kan ek nie meer onthou nie.

Dit was ‘n gesig gewees om te sien. 17 GSMs in gelid op pad na Hennopsrivier. Ek het meesal agter gery en dit was indrukwekkend om die string motors van agter af te sien. Om die minste te sê, die dag was ‘n reuse sukses en dit te danke aan Bob van Niekerk en sy medewerkers.

Dit was die eerste en laaste keer dat daar soveel GSMs bymekaar was en seker ooit weer sal wees. Die rede daarvoor laat ek aan Uself oor om te bepeins en te oordink. Ek weet om ‘n byeenkoms by te woon is ‘n opoffering – maar wat in die lewe is nie.

Kontak met Verster de Wit. (November 1976).

Na ‘n bietjie speurwerk het Raynard en ek Verster deWit opgespoor. Hy was toe woonagtig in Kosmos by die Hartebeespoortdam. Ons het hom geskakel en ons Klub se storie aan hom vertel en dat ons meer van sy aandeel in die GSM geskiedenis wou hoor. Ons het ook genoem dat die twee van ons hom graag sou wou besoek. Aanvanklik was hy uiters skepties oor die aangeleentheid. Skynbaar het iemand vroëer met hom gepraat en dit was glo ‘n fiasko gewees. Nietemin, hy stem toe in om ons te sien en daar is ‘n afspraak gemaak.

Daar gekom, het ons aan Verster verduidelik wat ons beoog en wat ons alreeds met die klub bereik het. Ons moes hom seker oortuig het van ons erns wat net daar kom hy met ‘n groot tas voorendag.Die was oorlopens toe vol van fotos en sketse en wat nog oor sy jare in Engeland en Suid Afrika en oor sy aandeel met hulp aan Bob en Willie. Net interessant hier - hy was verantwoordelik vir ‘n groot deel van die ontwerp van daardie tyd se Humber Super Snipe.

Net daar reël ons toe met Verster vir ‘n dag by hom en sy vrou Eva.

Die laaste Sondag van September val ons in die pad na hulle toe. Daar was sewe motors wat die pad aangevat het. Die opkoms was ‘n skrale ses Flamingos en een Dart. Die aandag en belangstelling gedurende die rit op pad na Verster van ander motoriste was indrukwekkend.

Die dag by Eva en Verster was ongelooflik Ons het letterlik aan sy lippe gehang want hier het ons vir die eerste keer gehoor van die dedikasie waarmee hulle, hulle droom nagejaag het. Van die ure se harde werk en opofferings het ons nie die vaagste benul nie. Na daardie dag het die motors vir ons almal ‘n nuwe waarde en betekenis gekry.

Spyt kom altyd te laat want die storie is nooit genoteer en op skrif gestel nie. Verster is intussen oorlede en wat van die tas met al die geskiedenis geword, het kan ‘n mens net oor wonder. Daarmee is al sy insette ook verlore.

Die rit terug van Verster het ook interessante probleme opgelewer. Terwyl ons nog lekker gekuier het, het donderweer wolke opgesteek. Ons was skaars weg by Verster toe die hemele oopmaak. Heman Krause in sy Dart, het sop nat gereën want sy dakkie was nie op. Hy vertel later dat toe hy by sy huis gekom het, was die Dart gelyk vol water tot by die deure. Hy moes die Dart leeg skep met ‘n beker.

My ondervinding was senutergend gewees. Die reënveërs het gebreek en ek kon niks voor my sien. Pieter Tolken se plan was dat voor my sou ry met sy truliggie aan. Nou ja, volg ‘n Flamingo met ‘n V6 in. Ek moes uit haal om by te bly in die reën. Gelukkig het ons almal veilig tuis gekom. Na die episode het ek besluit om van die Volkswagen se meganisme ontslae te raak en het die Mini se meganisme in gebou.

Jaar vergadering 1976.

Dan was daar die eerste Jaar vergadering in Desember 1976. Die was gereël by die Holliday – Inn by die eertydse Jan Smuts lughawe. Bob was na die byeenkoms genooi en dit was vir ons ‘n groot eer om hom daar te kon hê. Dit was die eerste kennis making van die Klub met Bob. Ongelukkig was die opkoms van motors nie groot nie maar in getalle wel. Ons het ‘n Dart en Flamingo in die saal gehad waar ons vergader het.

Impromptu rit na Pretoria.

By ‘n Maand vergadering een Sondag is daar op die “spur of the moment” besluit om vir ‘n “drive” na Pretoria te gaan vanaf Kempton Park. Dit het algemene byval gevind en weereens was dit op sigselfs ‘n groot sukses.

Algemeen.

Daarna was daar nog vele byeenkomste. Sommige beter bygewoon en ander minder goed. Motors is gekoop, herstel en verkoop. Tussen deur het die ledetal gegroei en so ook die aantal motors. Dit was tog jammer dat daar lede was wat nooit hulle motors op die pad gekry het nie alhoewel hulle aktief aan die klub deel geneem het.

Peter en Jill Geertshen het ook aan gesluit. Hulle verdien spesiale vermelding want hulle was kennisse van Bob vir baie jare. Gill het ‘n pragtige Plakboek oor al die doen en late van die GSM min of meer sedert die bestaan jare.

Peter en Gill saam
met
Bob by plakboek

 

Diè het sy sorgvuldig op datum gehou. Dit sal interessant wees om die boek onder oë te kry. Sy is intussen oorlede maar ek is seker dat Peter opgespoor kan word.

Gariepdam. ( 31-5-84 tot 3-6-1984).

Die byeenkoms was gereël om die Flamingo se 21ste bestaansjaar te vier.

Dit was gereël was by die huidige Gariep dam. Dit was daar gereël sodat dit min of meer in die middel van die land is en dat almal wat wou, dit geredelik kon bywoon. Daar is spesiale lapwapens gemaak vir die geleentheid wat net vir mense wat daar was gegee sou word – iets wat ander ons sou beny.

Daar is ook vir die geleentheid ‘n spesiale koek gebak wat die geleentheid moes simboliseer.

‘n Interessante program vir die langnaweek is opgestel waaraan almal kon deel neem met of sonder ‘n GSM produk. Ons spesiale gas weereens was Bob.

Almal het op die betrokke Vrydag afgesit na die Gariepdam vir die naweek. Net voor son sak die aand kom daar ‘n motor op sleeptou aan. Dit blyk toe ‘n baie verkluimde Bob te wees. Sy Dart het kort duskant Colesburg die gees gegee.

Bob se stukkende Dart

 

Die aand het almal baie gesellig verkeer voor ‘n lekker kagelvuur. Daar is na staaltjies geluister  en Gill het haar plakboek te voorskyn gehaal (sien bo)en almal vergas op stories soos sy die dinge ervaar het. Na  geëet is, het Bob ons sy storie vertel.Waar vandaan hy gekom het, wat sy ideaale was, en hoe hy toe daarby uit gekom het.  Wat ek destyds neergeskryf het , het ek te skrif gestel en dit ingesluit in die Geskiedenis van die Klub.

Die volgende twee dae was louter genot gewees.Die kameradie sal nie maklik weer geewenaar word nie. Al die fotos wat hierby geplaas word spreek boekdele.

Met die afloop van die naweek is Bob se Dart Bloemfontein toe gebring op Steyntjie Steyn se sleepwa. Hier het ons toe met Jannie Botha se hulp ‘n enjin in die hande gekry wat in die Dart gesit is. Na ‘n bietjie stel hier en ‘n bietjie stel daar het Bob toe die enjin na sy smaak aan die loop gekry. Die lang pad terug Kaapstad toe is aan gepak. Weereens het ‘n verkluimde Bob veilig by sy huis gekom. Hy het my gesê toe hy deur die Heksrivier berge deur gery het was hulle toe onder die sneeu. Sy Dart het nie ‘n kappie op gehad nie. Sy opoffering vir die klub laat mens stom.

Bestuur van Klub na 1982

Aangesien ek nou woonagtig was in Bloemfontein kon ek nie meer aktief aan die Klub se doen en late deelneem nie.

Die bestuur het toe oorgegaan in die hande van Marie en Mike de Lange.

Hulle het gesorg dat die klub lewensvatbaar bly en het gesorg vir uitstappies en vergaderings wat goed bygewoon was.

Daar was veral gelet op ‘n adreslys wat baie goed op datum gehou was. Ek glo dat dit dalk nog beskikbaar is en gekry kan word van Marie de Lange.

Die klub sal Marie veral onthou vir haar deursettings vermoeë wat sy aan die dag gelê het om met PG Glass te onderhandel om vir die klub ruite te kry vir die Dart en die Flamingo- windskerm vir die Dart sowel as windskerm vir die Flamingo en die agter vensters vir die Flamingo. Die eerste besending agter vensters was te klein en nadat sy hulle bygekom het , het hulle dit vervang met die regtes op hulle eie onkoste. 

Na Mike de Lange het Pat Holmes die leisels oorgeneem en was hy Voorsitter vir ‘n paar jaar.Wie na Pat voorsitter was kan ek nie onthou nie.

Mike de Lange
Pat Holmes
Con Joubert

 

Bloemfontein tak van die GSM Klub van SA

Hier in Bloemfontein was ‘n paar GSM motors gewees en het ons besluit om ‘n tak hier te stig. Die tak was baie aktief vir die tyd wat hy bestaan het.
Ons het van hieraf, onder andere, die Gariep dam byeenkoms gereël.

Die lede was:

  • Con Joubert – Flamingo

  • Wim Vermeulen –Dart

  • Johan Small – Flamingo

  • Dries Weyers – Flamingo

  • Willie Meisner – Dart

Jaareind funksie Parys ( 3-3-84 tot 4-3-84 ). Emfulenipark

Die Johannesburg klub het ‘n jaareind funksie gereël by Parys. Die was bygewoon deur lede van Johannesburg en ‘n paar van ons uit Bloemfontein. Die verteenwoordiging was goed van albei plekke. Hulle het ‘n lekker naweek gereël en ek glo die Klub se belangstelling is gestand gedoen. Weereens het Bob ons vereer met sy teenwoordigheid. Hierdie keer met sy Flamingo wat hy destyds gehad het en toe weer terug gekoop het.

Funksie Kempton Park.

Nog ‘n jaareind funksie wat ek kan onthou was gehou in Kempton Park. Die was gereël vir ‘n Saterdag en met twee Flamingos het ons het vanuit Bloemfontien na Johannesburg afgesit op ‘n Vrydag middag.
Daar was heelwat motors gewees en van die verskeidenheid is op die fotos te sien. Hulle het ook ‘n Concourse gehou en Bob was een van die beoordelaars gewees. Ongelukkig is al die name nie meer aan my bekend nie maar ek is seker dat as die fotos op die web kom sal mense wel name kan byvoeg. Daar sal seker ook staaltjies voorendag kom wat in gevoeg kan word.

Van die baie fotos wat ek het voeg ek in. Dit is om te wys hoe motors daaruit gesien het.

FOTO’S – VAN BYEENKOMS

              
OP FOTO’S: Johan Small –Dirk van den Bergh-Con Joubert –Neels Joubert –Willem Pretorius
Bob van Niekerk – Besig met beoordeling
Van die motors by die samekoms.

Chorley.

Ek gaan eers hier iets skryf oor Chorley.
Dit is ‘n dorpie in Engeland. In ‘n Engelse tydskrif sien ek ‘n advertensie vir Ford parte. Hulle sê dat hulle enige Ford part aan hou. Met ‘n geleentheid was ek in Egeland en het ek die moeite gedoen om daar te kom. Daar was rakke vol van enige onderdeel waaraan mens kan dink Enige jaar en enige model se onderdele net waar jy kyk. Onderdele vir die Flamingo se suspensie was in oorvloed. Van “control arms” tot “torsion bars”. “Ball joint kits” by dosyne ens, ens. Daar was selfs ‘n hele paar linkerhand- stuur “stearing boxes” wat op ‘n rak gelê het. Die storie van die plek is dat die eienaar al wat ‘n Ford is opkoop, die parte herwin en dan verkoop. Sover ek kan onthou was die pryse vir daardie tyd baie billik. Ek praat nou van 1994.
Ekself het twee stelle “balljoints” daar gekoop.

ALLERLEI VAN DIE KLUB.

Kerskaartjies.

Ons het besluit om Kerskaartjies uit te stuur met ‘n GSM motief. Na vele wik en weeg is die volgende Kaartjies gemaak.

Hierdie is twee kerskaartjies wat op geleenthede uitgestuur is.

G.S.M NEWS

Hierdie was ‘n kwartaalikse boekie wat ek saamgestel het. Daarin het alle nuuswaardighede verskyn soos briewe van lede, geskiedenis van die motors, waar parte beskikbaar was en sommer algemene gebeurtenisse van mense en die klub se aktiwiteite.

 

 

Ongelukkig het die boekie opgehou om te bestaan weens logistiese probleme.
Ek glo Pieter Geerthsen mag dalk nog almal hê.

 

Married a GSM Dart.

Die Klub was bevoorreg om Jill Geertshen as lid te hê. Soos alreeds genoem, het sy ‘n pragtige plakboek gemaak oor al die jare wat sy met haar GSM Dart en Klub betrokke was.

Ek haal aan:

I MARRIED A G.S.M. DART.

I do not make a habit of commenting on magazines. I merely read them if I find them interesting, and I have read all editions of CAR with enjoyment. However, I do fell that a statement in your March issue concerns the G.S.M. Flamingo G.T. cannot be left unanswered. Namely, that “you will never sell one to a women”, and that it is “a man’s car through and through”.
Frankley I am looking for someone who wants to give me R3,000 !
Ever since I married a G.S.M. Dart three years ago I am a fan of that type of car in general and G.S.M. in particular. As for the reclining driving position – it is the most comfortable imaginable, and that combined with power, exellent brakes and stability certainly makes driving a pleasure at the same time being as safe as possible.
I can’t possibly speak for women in general, but I am sure that given the opportunity there must be many who would have to agree with me. Incidentally all the men not used to sports-car qualities who have driven our car found it most peculiar at first.

Men are just more ready to admit the possibilities, whereas women seem to prefer to be sure and will not commit themselves, preferring not to deviate from the familiar form.
Incidentally the Dart mentioned is one of the original models built, through a 1,340 c.c. Ford engine has being fitted. It has now done over 40,000 miles, used as a private car for town and touring, and up to a few months ago was our only car. It certainly given us good, economical service, lots of fun, and we hope we never have to part with it.

“HOUSEWIFE”              

Sunnyside, Pretoria.

Brief uit CAR June 1964.

Nog ‘n staaltjie van Gill.

Sy was werksaam by die Universiteit van Pretoria waar sy ‘n afdak gehad het. Die parkeer area was grond gewees. Soggens was dit haar manier om aangejaag te kom, die neus van die Dart weg van die afdak. Op ‘n gegewe moment het sy die handrem vas getrek en met die maneuver dan agteruit onder die afdak gestop. As student destyds het ek dit self gesien.

G.S.M. UITSTALLING.

Die Klub was uit genooi na ‘n motor skou wat in Johannesburg gehou was.
Daar was baie moeite gedoen en die fotos spreek vir hulle self.

BRAND IN ‘n FLAMINGO.

Daar was ook mense van die Klub geweet het maar nooit juis veel daarmee te doen wou hê nie. Wanneer daar egter probleme opduik was hulle gou by om vir hulp aan te klop. Dit was beleid dat hulle gehelp moes word om weer die motors op die pad te kry. So het die foto by die klub opgedaag en om raad gevra. Sover ek weet het die Klub hom van die nodige bakdele voorsien om sy motor te herstel.
Presies wat gebeur het om die brand te veroorsaak weet ek nie, maar op die foto lyk dit maar sleg.

Soos ek destyds verstaan het, het die klub vir hom die nodige bakdele verskaf om sy motor weer op die pad te kry.

BYDRAE UIT DIE MOULDS.

Die moulds wat ons gekry het, het ‘n groot verskil aan die Klub en lede gemaak.
Daar was baie mense wat hieruit baat gevind het en weer motors kon herstel.
So is daar bv:

  • 4 - Enjinkappe gemaak.

  • 6 - Neus stukke tot bo die voorwiele.

  • 1 - Volledige bak.

  • 1 - Volledige dak met voor venster pilare tot die agter vensters.

  • 1 - Volledige dak met voor venster pilare met ‘n volledig agterkant.

  • 1 - Volledige stel deure.

As dit nie vir die moulds was nie, sou die klub armer aan motors gewees.

Foto van een van die vele byeenkomste wat die klub gehad het

  Steyntjie Steyn

– Drag Racing met sy Dart

Laaste foto ook by ‘n byeenkoms geneem om te wys hoe ernstig lede se belangstelling kan wees.

Samevattend.

Met bogenoemde het ek probeer om die Klub se begin te skets en waar alles begin het.

Dit was egter nie moontlik gewees om alles kronologies bymekaar te kry nie, want baie informasie het verlore gegaan.

Die stigtings datum is egter korrek en wie teenwoordig was.

Uit die aard van die saak gee dit darem ‘n idee van wat alles min of meer gebeur het en hoe van die byeenkomste bygewoon was.

Con Joubert.

BACK


designed, hosted and sponsored by Response Group Trendline