GSM VERBINTENIS

Op ‘n goeie dag was ek op pad na my werk in Johannesburg vanaf Boksburg. Soos dit maar gaan in oggend verkeer, sit jy al die motors wat verby kom en wat jy verby gaan en dophou. Ek was in ‘n Kombi en teen ‘n opdraend gaan daar toe ‘n silwer Flamingo by my verby.

Net daar besluit ek toe dat ek ook ‘n Flamingo wil hê. Noem dit maar ‘n jongmans droom.

Daardie aand tuis noem ek dit aan Amanda ( my vrou ). Sy wou toe weet hoe die “ding” lyk. Die naaste wat ek daaraan kon kom was, om dit te beskryf as ‘n twee sitplek, plat sportmotor met twee halwe agter vensters. Dit toe daar gelaat en bly wonder waar ek ‘n Flamingo in die hande gaan kry.

Dit was nie lank daarna dat sy my sê dat sy so ‘n motor by ‘n huis in Boksburg gesien het wat onder ‘n seil staan. Om die minste te sê, ek het haar nie geglo nie, want hoe sou sy nou weet.

Die kort en die lang van die storie is dat ek self gaan kyk het en so werklikwaar – dit was ‘n Flamingo.

Die naweek is ek toe na die betrokke huis om te gaan hoor en kyk wat aangaan en wat gaan vir wat. Dit blyk toe dat die motor behoort aan dieselfde man wat met sy silwer Flamingo by my verby gery het. Sy naam was Frank Maritz, wat toe ‘n onderwyser was in Johannesburg .( Frank is intussen na Nieu-Seeland met sy Dart en Flamingo).

Nou, die Flamingo. Hy was in ‘n haaglike toestand om die minste te sê. Nietemin, ek moes die Flamingo hê. Eers wou Frank niks van verkoop weet nie. Dog, na vele gesmeek en soebat het hy besluit om te verkoop teen ‘n hele R75O.OO.

Soos op die fotos gesien kan word, was die ligte weg, een bonnet skarnier en met geen trims voor. Die stuurwiel , spoedmeter en verskeie ander items binne in was weg. Daarby was daar ook ‘n ses silinder enjin in gewees. Die res was darem volledig gewees.

Toe begin die opbou en regmaak. Die Flamingo is eers uitmekaar gehaal tot net die bak oorgebly het. Allereers is die bak afgeskuur. Vloer skuurpapier was die aangewese manier met baie “elbow grease”. Van rooi na blou na groen en uiteindelik op die gel coat. Weke en weke se harde werk later. Daarna is die krake en swak plekke herstel.

Intussen probeer ek die herkoms van die motor vas stel. Suid Afrikaans ja, maar van waar en hoe!

Niemand skyn te weet nie. Die inligting op daardie stadium was beperk en alhoewel almal dit eens was die motor ter plaatste vervaardig was, was die res van die storie onbekend. Waarvoor staan GSM? Antwoorde was oa. Giovanni, Sartori en die M ? Niemand weet. Ek bly vra maar niemand weet. Selfs Frank weet nie. Iewers hoor ek van ‘n Meissner verbintenis met die Dart en Flamingo by ‘n Ford garage in Boksburg. Die Meissner het hulle gesê was van Kaapstad.

Die Kaapstad se telefoongids het wel ‘n L. Meissner ingehad. Ek bel toe die nommer en kom by Lorraine Meissner uit. Sy was eers baie skepties oor my navrae maar geleidelik het sy agter gekom dat ek werklik belangstel. Sy sê toe dat ‘n ene Bob van Niekerk deel was van die projek. Volgens haar het sy laas verneem dat hy iewers in Paarl woonagtig was.

Intussen is die Flamingo klaar voorberei en word hy wit geverf. Daar staan hy toe, ‘n wit dop, wit deure en enjinkap.

Maar ‘n paar goed bly pla. Wat se hoofligte, klein ligte en waar kom die voorste sier roosters vandaan. Dit is toe net daar wat ek ‘n getroue “scrap-yard” besoeker word om parte te soek. Op die stadium sou ons na my broer met vakansie gaan in Somerset Wes. Met die wete dat Bob van Niekerk moontlik in die Paarl is, sit ons toe af Somerset Wes toe teen 90 km. per uur (onthou jy nog) Met die Paarl se telefoonboek ter hande, kry ek toe Bob se nommer. Lorraine het my gewaarsku dat hy maar ‘n korrelkop kan wees en met die gedagte in my kop het ek hom gebel.

Na ek my rede vir die oproep aan hom gestel het, het hy vir my gese dat ek binne ‘n halfuur op die plaas moet wees, aangesien hy ander afsprake het. Ek het dit net gemaak vanaf Somerset Wes tot in Paarl in die halfuur, teen 90 km per uur.

Daar gekom het Lorette my vriendelik ontvang en deur geneem na sy studeer kamer. Gelukkig vir my, het ek gesien dat hy boot modelle op sy lessenaar het. Dit was toe my aanknopingspunt met Bob gewees. Heelwat later het ons toe by die Flamingo uitgekom en ‘n nuwe lig het vir my opgegaan. Oor Giovanni en Sartori en M het Bob lekker gelag. Die ware naam was GLASSPORT MOTOR COMPANY. Dit is ‘n storie op sy eie.

Bob het my vrae oor alles nog wat beantwoord asook oor wat se parte gebruik was. Hy het ook Verster de Wit se verbintenis met die produk uiteengesit en almal wat daarmee gemoeid was.

Tuis gekom is daar met ywer gesoek na DKW hoofligte, Hillman Imp klein liggies, NSU indicator meganisme, Austin A40 Countrymann windskerm rubber ens.ens.

Die volgende probleem met die opbou was die dak se bekleding. Materiaal en spons is gekoop en aanmekaar geplak op die sitkamer se mat. Met Amanda en my swaer se hulp is die dak geplak en afgewerk. Dit alleen was ‘n formidabele werk gewees. Die res van die bekleding was ook maar meet en pas. Toe die dashboard! Ek is na stofferders maar hulle wou nie eens daarna kyk nie. Terug by die huis pak ek toe die “werkie” aan. Met een stuk materiaal en na baie gesukkel het ek dit reg gekry. Toe volg die bedrading (‘n eerste), enjin, deure en al die ander goed tot by die enjin kap. Ek was baie trots op die Morris Cowley se “boot” skarniere wat ek raak geloop het. Die skarniere word vas gesit en die enjin kap word oopgemaak. Met die oopmaak was daar ‘n effense weerstand. ‘n Bietjie krag word gebruik en daar breek albei skarniere. Die rede was dat hulle verkeerd aan gesit was. Toe volg ‘n groot soektog na nog skarniere wat ek eindelik raakloop by ‘n scrap-yard naby Heidelberg in die Transvaal. Hierdie keer maak ek dubbel seker dat hulle reg aangesit word.

Eindelik was alles klaar en na die beste van my vermoë gedoen. Wat ek op die stadium nie gehad het nie was die sierstroke voor en wieldoppe. Alhoewel ek geweet het die wieldoppe was op die Valiant Sports Coupe gebruik, kon ek hulle nie kry nie. Die voorste sierroosters was deur GSM self gegiet en dus op die stadium ook nie vergkrygbaar nie.
Ek het self die stuurwiel gemaak uit ‘n stuk aluminium plaat en laag hout.

Uiteindelik was die Flamingo klaar en met die eerste probeerslag het hy die Padwaardigheids toets geslaag. Om die minste te sê, dit was ‘n vreugdevolle dag.

Van toe af het ek elke dag met hom werk toe gery.

Op die stadium het ek gewonder of daar nog Darts en Flamingos op die pad was en hoeveel nog bestaan.Ek het die moontlikheid van ‘n Klub oorweeg, en dit met Frank bespreek Ons het toe besluit dat dit ‘n moontlikheid is.

Die volgende advertensie het in die CAR verskyn van Julie 1976:

FLAMINGO CLUB: Those who want to form
A Club- please write to: Con Joubert 11
Dias Rd. Morganridge, Boksburg 1460
Phone 826-2877 Boksburg

Die eerste persoon wat my gebel het was Rayhardt Beukus van Kempton Park. Daarna het Dries Weyers gebel. Ek het intussen vir Noel Blott in Johannesburg raak geloop met ‘n Flamingo. Hy weer, op sy beurt, het Johnny Hirsch geken. Ook met ‘n Flamingo.
Noel het die oorspronklike partelys gehad en hy het dit vir die Klub beskikbaar gestel.

Daar is toe besluit om ‘n stigtings vergadering te hou en wel by Frank Maritz aan huis. Dit het vroeg in Augustus 1976 plaas gevind.Ekself was verkies tot Voorsitter met Raynard Beukes as Sekretaris. Teenwoordig was: Noel Blott , Johnny Hirsch, Dries Weyers en Larry Willford. Die klub sou daarna bekend staan as: GSM Motor Klub van S.A.
Meer daaroor op ‘n later geleentheid.

Op ‘n goeie dag sê Raynard my dat hy gehoor het van ‘n Flamingo wat in ‘n ongeluk was. Die motor was by iemand in Johannesburg. Ek is die Sondag oggend na die betrokke adres en daar staan die Flamingo onder ‘n afdak Ek dink die fotos vertel die hele storie.Die “wrak” het ek aangekoop vir R90.00. Soos gesien kan word, het baie goed ontbreek. Daar sou dus bak panele gemaak moes word en baie ander parte gesoek moes word.

Nietemin , die opbou moes begin.

Johnny wou ook sy motor herbou en die twee projekte het saam verloop. Op die stadium was daar geen giet vorms nie en het ek die nodige moulds van Johnny se motor gemaak nl. die neus gedeelte en die enjin kap. Die motor is eers heeltemal uitmekaar gehaal, afgeskuur tot op veselglas. Daarna is die neus terug gesit en die res van die bak herstel. Tussen deur het ek die ontbrekende parte gesoek. Gelukkig het ek, wat ek gekort het, in die hande gekry by verskeie scrap- yards op die Rand.

Selfs weer bonnet skarniere gekry en ‘n stel wieldoppe raak geloop sonder die wapens. Ongelukkig kon ek net swart VDO instrumente kry. Omdat die Volkswagen reënveërs geneig was om uit te breek, het ek besluit om die Mini se sisteem te gebruik. Omdat die eerste Flamingo geneig was om deur te stamp agter, het ek die boonste heg punte van die skokbrekers nagenoeg 10 cm na binne geskuif. Dit het ‘n groot verskil gemaak aan die Flamingo- geen meer deurstamp nie.

Die wieldop wapens op die Flamingo het Dries en ek uit aluminium gegiet.
Die Flamingo is toe geverf en verder aanmekaar gesit sonder enige probleme. Weereens was daar nie probleme met padvaardigheid nie.

Die Flamingo het ek aan Porter in Kaapstadverkoop. Hy is intussen oorlede en die Flamingo het ‘n nuwe eienaar gevind en wel Hein van der Watt. By die byeenkoms wat die Klub gehad het saam met die Hotrod Klub in Belville, het ek my ou Flamingo dadelik erken en was aangenaam verras met sy toestand.

Terwyl ek hiermee besig was het ons Johnny se motor ook klaar gemaak. Dus twee motors in dieselfde tyd op en oorgebou.

Weens ‘n sameloop van omstandighede het ek my in ‘n interessante projek bevind.

My broer David het begin belangstel in die Flamingo, en wou ook een opbou. In die tyd vertel iemand my van iets wat soos ‘n Flamingo lyk, wat hy in n scrap-yard gesien het in Swaziland. Al hoekom hy gedink het dit is ‘n Flamingo, was dat daar ‘n wapen op die bak was wat soos ‘n Flamingo se wapen gelyk het. Die Scrap-yard wou R100,00 daarvoor hê. Skynbaar was daar maar min van die motor oor. Hoe min sou ons eers later uitvind.

Weer was daar ‘n sameloop van omstandighede. Iemand laat weet ons dat daar Flamingo moulds in Knysna agter ‘n winkel lê. Hoe onwaarskynlik is dit nie. Na al die jare en jare. Hoekom sou dit so wees? Daar is toe daarna gaan kyk en jou waarlik- volledige moulds wat destyds in die fabriek gebruik was. Die moulds is aan ons gegee en my broer het dit Johannesburg toe gebring.

Omdat ons nou die moulds gehad het, het ons na die sogenaamde Flamingo in Swaziland gaan kyk. Met bakkie en sleepwa sit ons toe af na Swaziland op ‘n Vrydag. Die Saterdag oggend is ons na die scrap-yard.

Daar, tussen die lang gras lê toe iets wat soos ‘n Flamingo lyk.Plat op sy pens. Geen dak en ‘n totaal veranderde neus. Die eienaar deel ons toe mee dat die Flamingo in ‘n ongeluk was. Van die parte is afgehaal en het oorals rond gelê. Ons moes maar soek. Die deure is gekry met hulle “beadings. So ook die agter ruite en die twee voorste struts asook die dashboard. Die stuurboks en die stuur meganisme het ons ook gekry.Verder niks. Met my ondervinding sover, het dit na ‘n heel uitdagende proposisie gelyk. Om van die paar goed ‘n motor te bou sou ‘n uitdaging wees.

Dus is die WRAK opgelaai en na Boksburg gebring.

Daar gekom, is die oorblywede bak van die onderstel afgehaal. Die pype wat die voorste deel en agterste deel verbind het, was totaal deurgeroes. Die is toe vervang met nuwe pyp. ‘n Taunus agteras is gekry en van my Flamingo af is plaatjies van karton gemaak en daaruit is plaatjies uit yster gesaag en op die as vas gesweis. Trackrods is gemaak ook van my motor as voorbeeld. Die control arms vanaf ‘n Consul 315 is gekry gelukkig met die discs en die calipers. Met alles sover was die onderstel volledig.

Daar is besluit om die bak totaal te herbou.So gesê, so gedaan. Die moulds is aanmekaar gesit en voorberei vir glasvesel. Dit het drie van ons 12 uur lank geneem om die bak te veselglas. Ons het Vrydagaand begin en Saterdag oggend klaar gekry. ‘n Week later is die bak uit die mould gehaal en afgewerk. Die vloerpan is in die nuwe bak vas gevesel. Daarna is die bak op die onderstel monteer. Daarna is dieselfde pad geloop om die motor klaar te kry. Al die nodige parte is bekom terwyl ons aan die bak gebou het. Pieter Tolken het voorste trims laat giet en so kon ons toe my motor en my broer se motor daarmee voorsien. Die Flamingo is toe ook terug op die pad. Die Flamingo is nog in gebruik en behoort aan Rudi Appel.

My swaer, Arrie Van Tonder, het ‘n Flamingo in Natal raak geloop. Halfpad deur die herstel het hy die Flamingo verkoop. Die persoon wat die motor gekoop het, het die motor klaar gemaak en sover my kennis strek, is die Flamingo nog op die pad en in goeie toestand.

My eerste Flamingo het ek vir ‘n Dart verruil. Sy neus was ook herbou na “n ongeluk. Verder was hy volledig. Vanaf Herman Krause se Dart het ek moulds gemaak van die neus gedeelte en bonnet. Die Dart is ook terug op die pad en ek het hom ongelukkig verkoop.

Op die stadium verhuis ons na Bloemfontein. Ons laat toe baie vriende agter en ‘n Klub wat vir my baie beteken het.

Hier , in Bloemfontein, loop ek vir Dirk van den Bergh raak. Nodeloos om te sê, hy wil ook ‘n Flamingo hê. My broer het intussen nog ‘n Flamingo raak geloop. Hy het nie vir die opbou kans gesien nie en verkoop die motor aan Dirk. Weereens is dieselfde pad geloop en die Flamingo is van onder af op en oorgebou. Afskuur, parte soek,aanmekaar sit ens ens. Projek loop goed af en nog ‘n Flamingo op die pad. Dirk het die motor later verkoop aan iemand in Johannesburg.

Johan Small hier in Bloemfontein is ook iemand waarvoor ‘n mens jou hoed voor moet afhaal. Hy het ‘n Flamingo gekoop waarvan die neus flenters was. Die was glo in ‘n hele paar stukke gewees. Met geen hulp, het hy ‘n gat in die grond gegrawe en die stukke een vir een in die gat gepas en so die neus weer gevorm. Toe hy klaar was is die stukke aanmekaar gelas met veselglas en daarna terug gebou op die Flamingo. Die resultaat was nie 100% nie maar vir sy poging was dit 100%. Ons het later vir hom ‘n neus in Johannesburg laat maak en dit toe op sy Flamingo gesit.

Amanda sien een middag ‘n Dart hier in Bloemfontein se strate. Sy sit die Dart agterna, stop hom, en begin met die eienaar gesels. Dit blyk toe niemand anders te wees as Willie Meissner (jnr). Hoe klein is die wêreld. Hier begin toe ‘n vriendskap wat vandag nog bestaan.

Nodeloos om te sê, maar sy Dart is ook hier by my herbou. Met die Dart het hy verskeie kere tussen Kaapstad en Bloemfontein gery.Daar was ‘n paar gebeurtenisse op pad. Vra hom maar self daarna.

Asof voorafgaande nie genoeg was nie!

Nadat Willie hom in die Kaap gevestig het; loop hy n wrak in Stellenbosch raak. Sonder seremonie word die wrak op die trein gesit en na my aangestuur. FOTOS.

Weer word ‘n agteras gebou. Weer word die onderstel regemaak. Hierdie keer met die regte pyp van Andrag. ‘n Lopende onderstel word gebou. Bak dele soos nodig word in Boksburg gemaak en aangestuur na Bloemfontein.Die dak word vasgevesel en die bonnet gepas. Op die stadium gaan die projek oor na Dries Weyers, maar weens onvoorsiene omstandighde word die projek nie voltooi nie.

My buurman, Jannie Botha koop ‘n Flamingo in Johannesburg. Hy begin sy restourasie maar dit neem tyd. Hy is intussen oorlede en sy seun erf die motor. Omdat hy geen kennis van motors het nie verwissel die motor van eienaar en is die motor tans in die Kaap. Volgens Nuusbrief No 6, behoort die motor tans aan Louis Buys van Robertson. Die motor was gebruik as ‘n Tydren motor en kon die agterste deel van die dak soos ‘n hatch oopmaak. Ek en Jannie het lank gespook om die dak weer op die regte plek vas te kry.

Ek was ook gemoeid met die gedeeltelike herstel van Wim Vermeulen se Dart.Hy het na sy Dart verwys as Groenie die Drakie. Hy is oorlede voor ons kon klaar kry en sy seun het die Dart geërf en is met hom weg na Pretoria.

Noel Blott het Port Elizabeth toe getrek en daarin geslaag om sy Flamingo se neus af te skryf. ‘n Neus is uit die moulds gemaak en soontoe gestuur. Ek is na Port Elizabeth en ons het die neus weer aan gelas. Koolstof vesel was gebruik om die neus te versterk.

Toe kom my laaste en grootste projek. Dit gaan miskien langdraderig wees, maar ek dink dit is nodig en interessant. Eers ‘n bietjie agtergrond oor hoe die Flamingo scrap geword het.

Herman Krause het ‘n Flamingo. Hy was geparkeer toe iemand sy motor van agteraf stukkend ry. In die proses word die bak agter sowel as die onderstel beskadig. Om sy motor weer op die pad te kry, koop hy toe ‘n alreeds afgeskryfde Flamingo. Hy saag die nodige van sy motor af en die ooreenstemende stuk van die ander motor en las dit aanmekaar. Siedaar, sy Flamingo weer op die pad. Die res van die ander Flamingo gooi hy in ‘n bogrondse dam. Dit is waar ek nou inkom. Ek sien die scrap. Eintlik is dit nie eers scrap nie. Dit is geroeste pyp en hier en daar ‘n herinnering aan ‘n Flamingo se bak.

Ek moes die gemors hê, want ek kan mos weer ‘n Flamingo daarvan maak. Dom astrant? Ek stem saam. Die gemors word opgelaai en per trein na Bloemfontein gestuur.

Soos van die fotos gesien kan word was daar feitlik niks waarmee ek kon begin. Ek sou alles moes maak en wyd en syd soek na parte.

So met die tyd saam word daar af en toe iets gedoen. Hier geskuur en daar gelap. Op ‘n stadium word die neus gedeelte en bonnet in Boksburg gemaak en aangestuur na Bloemfontein. Die neus word aangesit en afgewerk. Die bonnet word gepas. Van stukke skarniere word skarnier uit brons gegiet. Daarmee word die bonnet finaal gepas.
Met dit klaar was daar ‘n bietjie meer motivering om aan te gaan.

Die onderstel (wat daarvan oor was ) is afgehaal van die stukkie bak. Let op van die fotos dat daar geen vloerpan was nie. Die pype was ook deur geroes-dit wat oor was. Weereens het ek pype van Andrag bekom. Daarmee het ek toe die pyp gedeelte klaar gemaak en die kruis gebou in die middel van die onderstel.

Die agterste boks gedeelte was ook ‘n strorie en ‘n verhaal op sy eie. Met karton op ‘n onder stel is “templates” gemaak. Die is afgetrek op plaat yster en deur Andries Weyers met ‘n hoekslyper uitgesny. Daarna is die boks gebou met die onderstel van die Stellenbosch motor langsaan om so akkuraat as moontlik te werk.

Met die onderstel klaar is daar ‘n agteras bekom en gebou. Weereens van karton “templates” en plaaitjies wat gesaag is en vas gesweis is ‘n agteras bebou. Ek dink daar is 13 plaatjies. Dit was die derde as wat ek gemaak het. Daarna die trackrods. Die ringe vir die busse (agt van hulle) is gedraai deur ‘n kennis van my. Hulle vasheg boute op die onderstel is ook deur hom gemaak.

Toe kom die voor suspensie se boonste arms ( wishbones ). Weereens kom die Stellenbosch motor tot my reding. So ook Dries. Weer plaat, hoekslyper en geduld. Die spil as het ons toe laat werk met bearings in plaas van “needle rollers”. En siedaar – klaar is die arms. Die rubber keeëls is geoes van ‘n Mini se agterste suspensie. Gelukkig kom ek agter dat die Corsair se Mc Pheerson struts soort gelyk is as die Consul 315. Die is af gesaag op die regte lengte en die ring bo vir die balljoints is gedraai met die regte “taper”. Die control arms is opgespoor in ‘n scrap-yard. Die balljoints bo was van Engeland af ingevoer.

Op die stadium was die onderstel klaar geverf en die res van die suspensie by mekaar. Die is toe alles aanmekaar gesit en daar was die onderstel klaar en op wiele.

Toe volg die res van die bak. Die dak en agterste deel is weer uit die moulds gemaak in Boksburg en na Bloemfontein gebring. Die hele vloerpan is in twee dele gamaak van Dries se motor. Al die dele is stelselmatig aan mekaar gesit totdat die bak klaar was. Daarna is die bak op die onderstel gesit en vas gevesel.

Omdat daar nie moulds was vir deure nie het ons moulds gemaak van die binneste en buitenste panele. Hulle is weer op hulle beurt aanmekaar gesit en daar is die deure toe klaar. Die venster rame is gemaak deur vorms te maak en gebuigde staal stroke oor hulle te buig. So ook die agter sy vensters se rame.

Wat ons nog gekort het, was die bonnet oop maak en die sluit meganismes. Dries het ‘n Consul 315 op plaas gesien naby Winburg. Daar het ons die bonnet goed gekry sowel as die torsion-bar. Nou kon ek die bonnet heeltemal klaar maak.

Die deure was volgende. Weereens het Dries tot my redding gekom. Hy het ‘n Metropolitan iewers in ‘n gat gesien langs die pad. Daar het ons die vensters se op en afdraai meganismes afgehaal. Die deure se skarniere is gekry vanaf ‘n 1959 Anglia en wel die voordeur skarniere. Die sluit meganisme op die deure het ek gekry van ‘n Zephyr en die deur handvatsels van ‘n Cortina. Dit was dus alles vir die deure. Alles is gepas en maak werk, nadat ruite gesny is by ‘n glas handelaar.

Die dashboard is gemaak uit ‘n bestaande mould wat in Johannesburg gemaak is.
Die rem en kopellaar meganisme is gekry van ‘n 1958 ANGLIA. Die petrol pedaal het ons self gemaak.

Die res van die parte was alreeds gesoek en dus beskikbaar.Die Flamingo het so stadig maar seker einde se kant toe begin staan. Ek het die hoofligte van die D.K.W. Klub gekry.

Daar was egter nog een groot hekkie om oor te kom - die stuur meganisme. Daar is van ‘n 1958 Anglia se boks gebruik gemaak. Dit was spesifiek afkomstig van ‘n linkerhand model. Dus haas onverkrygbaar in Suid Afrika. Ek het ure in scrap yards gesoek vir ‘n plaasvervanger.Op die ou einde het ek ‘n Opel Kadet se “rack en pinion” raak geloop. Die gedagte was om ‘n rack te kry wat “ bumpsteer” sou oorkom. Gelukkig vir my was Bob van Niekerk op die stadium by my. Hy het met sy agtergrond en kennis gesê hoe die meganisme ingebou moes word. Dit is toe gedoen en die rack en pinion is gekoppel aan ‘n Ford Escort se stuur stang. Die om bou was ‘n groot sukses.

Ons het ‘n Ford 1600 enjin ingesit en gebruik gemaak van ‘n Alfa vyf spoed ratkas.

Danksy Marie de Lange het ons die voorste en agterste ruite gehad wat sy laat maak het. Die voorste ruit is ingesit deur gebruik te maak van ‘n Opel Kadet se voorruit rubber.

Bekleding is gedoen, daarna die bedrading en laaste afwerking.Padvaardigheid was nie ‘n probleem nie en die resultaat is op die fotos.

Die stuur op die Flamindo was absoluut wonderlik. Daar was geen bumpsteer nie. Bob het die motor op ‘n geleentheid in Johannesburg bestuur en hy was vol lof oor die resultaat.

My seun, Neels, het feitlik van die begin af met die projek gehelp en dit was sy Flamingo.

Met die Flamingo was hy op twee geleenthede in die Kaap en verskeie kere Johannesburg toe vanaf Bloemfontein.

Opsommend.

Soos afgelei kan word was, ek betrokke by die totstandkoming van die Klub, met mense soos Raynard Beukes, Frank Maritz, Dries Weyers, Noel Blott en Johnny Hirsch.Daarna het die Klub gegroei en het baie mense later betrokke geraak. Ek sal later meer daaroor skryf. Ek dink die grootste invloed was Bob van Niekerk. Dit was ‘n plesier om sy kennis te kon gebruik en om weer sy droom te laat herleef.

Ek was dus tot ‘n meerdere en mindere mate betrokke by die herstel en opbou van agt Flamingos en drie Darts.

Ek hoop die informasie sal interessant gevind word en ‘n bydrae sal lewer tot die geskiedenis van die Klub.

Groete
Con Joubert.
 

BACK


designed, hosted and sponsored by Response Group Trendline